Worcester Kampus-student woon Wêreldvaardighede-konferensie in China by

Die 21-jarige Michael Ross, ’n student op die Worcester Kampus, is gekies om aan die Wêreldvaardighede-spitsberaad, wat van 5 tot 10 Junie in China plaasgevind het, deel te neem.

Michael, gebore en getoë op Worcester, is van jongs af blootgestel aan praktiese vaardighede, meer spesifiek sweis. Michael se familie is betrokke in die sweisbedryf en sodoende het hy ‘n liefde vir hierdie praktiese ambag ontwikkel. Van sy lektore beskryf hom as ’n hardwerkende en pligsgetroue individu. Mnr Angus Volkwyn (Lektor: Afrikaans) sê Michael beskik oor sterk analitiese vaardighede wat hom handig te pas kom in sy studieveld. “Hy is baie oplettend en nougeset en dit komplimenteer sy werk en voeg ook uitstekende gehalte tot sy werk toe.”

Hoewel Michael aanvanklik hoogtevrees met die opstyg van die vliegtuig op Kaapstad Internasionale Lughawe ervaar het, het dit egter spoedig verdwyn en die vliegrit het een van die hoogtepunte van sy reis geword. Michael meen “die Chinese is ’n ongelooflik gedissiplineerde en goedhartige nasie.”

‘n Onvergeetlike ervaring vir hom was die wolkekrabbers wat hy gesien het. Wat Michael egter die meeste gemis het, was natuurlik Suid-Afrikaanse kos, aangesien die Chinese se dieet baie van dié van Suid-Afrikaners verskil.

Tydens die kompetisie was daar verskillende posisies wat Michael moes kon sweis, onder meer filetsweis, boudsweis, asook vertikalehorisontale sweiswerk. Suid-Afrika was een van 37 lande wat aan die kompetisie deelgeneem het en het die algehele derde plek behaal.

Michael wil leerders motiveer om Wiskunde en Skeinat as vakke op skool te kies, aangesien dit nie net op die sweisbedryf nie, maar ten opsigte van soveel ander beroepe ook toegepas kan word. Sy siening is dat mense wyer as hulle eie omstandighede moet dink en nie in denkwyse moet stagneer nie. Sy droom is om homself as sweisingenieur te bekwaam en ook aktief in die bedryf werksaam te wees. Sy ouers steun hom heelhartig en droom saam met hulle seun om sy ideale verwesenlik te sien.

Ons is baie trots op Michael se prestasie en wens hom alle sterkte met sy loopbaan toe.